Level 1, Anura , die baadjie en ek.

So ‘n paar maande gelede vra my goeie vriend Niël my of ek nie die level 1 offroad kursus by Anura saam met hom wil gaan doen. Ek is gelukkig besig by die werk en het dus ‘n goeie verskoning om aan te bied – ek wil nie hê my fiets moet seerkry of vuil word nie..

 ‘n Paar weke na Niël se level 1 ry ons een Sondag oggend uit na  Greyton met die motorfietse vir ontbyt. Na ontbyt ry ek en Niël deur die dorp om die plek van naderby te bekyk. Ek kom ek agter dat Niël glad nie skrikkerig is om die grondpaaie te trotseer, soos ek nie. Hy ry met gemak vanaf teer oor na grond oppervlaktes en terug. Ek, aan die ander kant, het elke keer ‘n knop in my keel as hy in die rigting van nog ‘n grondpad mik.

By die huis gekom oordink ek die dag se ryery en besluit net daar om ook my plekkie by Anura te boek. As ‘n level een dit vir Niël kan doen, hel ja. My vrinne het mos gesê my GSA sal nooit ‘n gronpad sien nie…

So breek die 4de Desember aan. Ek ry vroeg die Sondag oggend  met die motorfiets agter my vrou aan Stellenbosch toe, sy was oppad  vir die Burger fietsren. Daar gekom het ek gou gesorg dat sy in haar blok ingaan, gegroet en daarna vat ek die pad uit Stellenbosch uit, Anura toe. Oppad besluit ek om by die motorhawe skuis oorkant Butterfly World eers ‘n koeldrank te gaan koop, aangesien ek heeltemal te vroeg was vir Anura. Hier het ek ook met Niël kontak gemaak en hy sou my daar kry want hy was ook oppad om level 2 te gaan doen. So het ek maar bo op die fiets bly sit, koeldrank gedrink en gekyk hoe die plek al besiger word in afwagting vir die voorste manne van die fietsren wat binnekort daar verby sou kom.

Niël was kort voor lank daar en ons besluit om maar om aan te skuif Anura toe. Daar aangekom was die manne en dames al reg met koffie en lemoensap. My senuwees was gedaan. Ek wil nie hê my fiets moet seerkry vandag nie. Ek val liewers onder hom as wat daar skrape gaan wees, dink ek by myself. Ek weet die bleddie ding is swaar maar ek sou later uitvind hoe onvergewend hy sou wees.

Die mense het so drupsgewys daar aangekom, onder andere Frans en Adriaan, nog twee vriende wat ook besluit het om level 1 te doen. Voordat ek my tweede koppie koffie kon vat toe het die “trainers” hulself begin voorstel aan die groep en ‘n paar ding kwyt geraak wat my nog verder op my senuwees gemaak het. Hierna is die level 2 groep en die pillion manne in ‘n ander rigting. Jip, nou was dit ons beurt. My baadjie en helmet was in my hande, maar Neels het my net een kyk gegee en wou weet waarheen ek so haastig oppad was. My antwoord , ek was reg vir ry. Wees maar rustig het Neels gesê.  'n Uur later sit ons nog by die restaurant en luister na al die ding wat ons moet doen en die manne vra vrae dat dit klap. Neels bly geduldig en hy hou by met die nodige antwoorde. Ek let ook op dat Neels die sigarette ook nou meer gereeld aansteek. Jis, nou moet ons ry, dink ek op ‘n stadium. Ek kon net nie meer wag om te gaan leer grondpad ry nie!!

Uiteindelik  is dit sulke tyd. Neels vra ons om op te saal en hy dui aan dat ons mekaar op die pad uit Anura uit, aan die linkerkant, op ‘n oop stuk gras moes kry. Gras? Ek kan nie behoorlik op grond ry nie en hier wil die man hê ek moet op gras loop ry!! Ek dink aan ‘n duisend dinge wat verkeerd kan gaan wanneer  ek saam met die ander manne in die rigting van die oop stuk gras ry. Paniek was regtig besig om sy hande om my hart te kry.  Daar aangekom is die ryer voor my die eerste een wat die gras aandurf en ek steel met die oog en doen dieselfde. Genadiglik bly die fiets regop en ek slaan nie neer voor die groep wat besig is met pillion opleiding nie. Ek maak dit tot waar ons moet stop. Hier vra Neels ons om ons goed onder die bome neer te sit wat ons nie op die fiets wou hê tydens opleiding nie. Hy noem ook dat ons ons baadjies kon uittrek. Nee wat, te veel moeite dink ek. Ek hou my topboks op die fiets en my baadjie aan. Hierdie besluit sou my later die dag inhaal.

Neels begin in alle erns, wys ons eers wat om te doen en dan probeer ons ander ook. Eers verduidelik en wys hy die balans punt van die fiets. Hier kry Neels ‘n glips en sy fiets val na regs wyl hy voor die fiets staan en sy windskerm vashou met twee vingers. Ons almal staan net daar soos soutpilare om die fiets en veroer nie ‘n vinger toe sy 1150 grond se kant toe staan nie. Neels probeer nog keer maar die 1150 wen hom oppad ondertoe toe. Ek dink net die hele tyd wat ek gaan maak as myne val. Daar is nie ‘n manier wat ek dit gaan toelaat nie. Ons ander  kry nou ook ‘n kans  en gelukkig kry jy die hulp van ‘n mede ryer om te keer dat die fiets nie op die grond beland. Ek sug ‘n sug van verligting toe ek die side stand kan uitskop en my fiets nog regop is. Die son het al warmer gebak en ek het nog steeds my baadjie aangehad.

Volgende was die fiets neersit  en optel oefening. Nee, dink ek by myself, ek gaan hier net kyk hoe dit gedoen word. Ek kan dit mos later self probeer of ‘n handdoek neersit daar waar hy moontlik op die grond gaan druk. Daar is nie tyd vir verder dink nie. Ek moet Adriaan bystaan en hy laat die neersit en optel sommer maklik lyk. Nou is dit jou beurt seg hy vir my. Flip, hier kom ek nie uit nie. Ek besluit uiteindelik om dit dit te probeer, anders sal ek nie die einde daarvan hoor nie. Ek loop staan met my rug teen die fiets aan die linkerkant. Nou kantel ek die stuurstang na links. Kry hom stewig beet aan die stang met my regterhand en kry ook ‘n stewige greep links agter by die saal. Stadig skuif ek voetjie vir voetjie voorentoe wyl ek die fiets laat kantel grond se kant toe. Die son bak die hel uit my uit. Ek laat hom verder kantel. Hoe ver nog? My bo-bene is aan die brand, die sweet loop oor my oë. Amper daar, sê Adriaan. Ek kan nie meer en laat val hom die laaste 5 cm. Dit is wat ek nie wou hê nie. Nou ja, eers regop staan en weer asem kry. Hy moet weer op. Dit het heelwat makliker gegaan Ek moet net versigtig wees om nie te ver op te lig en ek agteroor val nie. Ek kry hom regop en die side stand is uit.  Ek kyk vir skade maar daar is niks. Heel trots op myself. Adriaan gee ook ‘n high five. Nou moet ek hom na die na die ander kant toe neersit, dit gaan makliker noudat ‘n mens weet hoe. Ek is in my noppies….

Die volgende oefening breek aan en dit is hier waar Neels my "bubble" bars. Ons moet langs die fiets loop in ‘n wye sirkel wyl die enjin aan is. Ons weet mos nou waar die balancing point is. Neels wys en daar gaan ons. My GSA lê teen my wyl ek met hom loop en ek sukkel om hom regop te kry. Ek stop ‘n paar maal om my asem te kry. Die son bak die sewe duiwels uit my uit maar my baadjie is aan. Ek maak die loop gedeelte en is dankbaar om af te skakel en die side stand uit te skop. Ek raak te oud vir die tipe goed, dink ek by myself.

Neels hou net aan, nou leer ons van ry wyl jy staan. Eers met een been in die lug wyl die ander een al die gewig op die een peg vat, dan weer na die ander kant. Dit gebeur alles wyl ons in ‘n wye sirkel ry. Ek kry dit reg en begin weer stadig my selfvertroue terugkry. Daarna volg die een hand in die lug en dan weer die ander hand. Neels hou net aan en die son bak genadeloos van bo. So tussen deur die verduidelik drink ek die laaste paar slukke  van die koeldrank  wat ek die oggend gekoop het.  Ek kry nie "side saddle" reg nie maar kan wel met beide kniee bo op die sitplek sit wyl ek nog ‘n sirkel voltooi. Ek bid net dat ek nie omval voor ek die sirkel voltooi nie. Met beide voete  weer op die pegs vang my oog Adriaan wat langs die laning bome af hardloop langs sy motorfiets. Oe nee, Neels is van sy sinne beroof as hy dink ek gaan daardie oefening doen, en toe slaan Adriaan neer. Ek is dankbaar om te stop en te rus wyl Adriaan gehelp word.

Die cones word uitgepak in rye en Neels verduidelik die square houding vir skerp draai wyl die knieg teen die tenk druk. Ons probeer en probeer. Party van die manne kry dit maklik reg en ‘n paar van ons sukkel, maar ons probeer.

Uiteindelik breek middagete aan en is ons groep terug na die restaurant waar ons aansluit by die ander groepe. Ek sluk twee glase koue water weg. Neels sê weer vir my om my baadjie uit te trek, maar ek ignoreer hom. Ek gaan sit aan vir ‘n lekker burger en nog ‘n glas water onder ‘n koelte boom.

Kort voor lank is ons terug op die oop stuk gras. Die manne sit weer hulle goed onder die bome neer, behalwe Sam. Nee wat, dit is te veel moeite. Die opleiding gaan aan en die cones word nader aan mekaar gesit. Neels wys en ons probeer. Op ‘n stadium dink ek iemand het water op my uitgegooi want daar loop ‘n straaltjie water teen my hand af. Maggies, dit is ek wat so sweet. Ek sukkel om te konsentreer en die oefeninge raak net moeiliker. Toe gebeur dit. . .

Ons is besig met die U-draai oefening. Ek stol die fiets in die U-draai en probeer keer dat hy nie val. Dit voel of alles skeur in my lyf om die fiets regop te hou, maar ek verloor die geveg. Ek slaan neer soos ‘n bok wat ‘n kopskoot gekry het. Ek kry myself op en wonder wat alles op die fiets stukkend is. Ek is so dankbaar dat Neels ons gewys het hom om die fiets op te tel. Ek beur en steun maar kry hom regop sonder ander se hulp. Ek skop die side stand uit en soek vir skade aan die fiets. Net ‘n los spieel. Flip, hierdie fiets kan maar val, hy kan die punsch vat, dink ek.

Die tweede val kom nie lank daarna. Ek dink nog ek moet water uit my sak haal, maar kom nie daarby uit nie. Die straaltjies water kom nou by albei moue uit en die son staan stil bo ons.  Die figure 8 word verduidelik en gewys. Ek verloor hom om die 8 se boonste sirkel. Neels seg nog vir my om op te kyk toe val ek soos ‘n boom wat afgesaag word. Ek sukkel om my voet uit te hak waar  hy vashak aan my fiets. Neels kom help. Ek tel die fiets regop en Neels vra my om die fiets uit die blok te ry om die ander manne ook ‘n kans te gee. Toe word alles swart om my. Ek hou aan die fiets vas wyl ek bid om nie om te val. Neels vra of ek “Okay” is. Nee, sê ek, ek voel nie te waffers nie. Neels help my tot onder ‘n koelte boom. Ek trek my baadjie uit en lê daar soos ‘n dooie, ek dink nie eers aan wat nou stukkend kan wees na die val nie. Die manne bring vir my water.  Ek moes van beter geweet het. Die dehidrasie het my kom haal soos ‘n dief in die die nag.  Ek sit en kyk hoe die ander manne die res van die oefening klaarmaak.

Nou was dit nog net die emergency stoppe wat geoefen moes word. Ek ry in die rigting na die grondpad op die damwal, maar voel redelik broos. Ek stop by John en Anna-Marie en hulle praat my moed in. Ek sluit uiteindelik by die die groep aan maar besluit om ook om hierdie oefening uit te sit. Ek het nogal uitgesien om dit te doen.  Neels wys weereens hoe dit gedoen moet word en die ander manne doen hom na, al ry hulle so bietjie stadiger voor die rem slag. Na almal behalwe ek dit gedoen het is daar nabetragting. Laat middag vat ons die pad terug restaurant toe. Frans koop vir my ‘n lang yskoue koeldrank en ek plons in ‘n stoel neer, dankbaar vir vriende en kwaad vir myself. Niël keer terug van sy level 2 en ek is dankbaar ek was nie in die level 2 groep was nie.

Ons vat die pad terug huis toe. Ek is beslis volgende jaar terug vir nog 'n level een. Daar is te veel wat ek nog moet leer. Dankie aan elkeen wat die dag bygedra het tot my ontwikkeling.

Sam

Comments

Tony's picture
Offline
Joined: 2008/08/24

Mooi geskryf, Sam. Ek onthou nog daai benoude tye toe ek begin ry het.

Kry vir jou 'n oop stukkie grond naby die huis en herhaal die oefeninge elke week vir so 'n halfuur of wat. Dan, wanneer jy volgende jaar weer kursus toe kom het jy baie meer selfvertroue en doen jy dit lag-lag.

A bend in the road is not the end of the road... unless you fail to make the turn. ~Author Unknown

Offline
Joined: 2016/06/20

Dankie Tony. Ek besef dat net "TITS" en baie oefening my gaan help.smiley

Maandag tot Woensdag na die opleiding was my lyf nie my eie. Ek was nog nooit so seer van gymwerk nie...

David ffoulkes's picture
Offline
Joined: 2015/02/19

Welgedaan Sam - ek weet presies hoe jy gevoel het oor die fiets laat val. Ek voel nou nog sosmiley

David ffoulkes

Committee: Vice Chairperson/ Clubs Africa/ Membership/ Ride Captain

Charles Oertel's picture
Offline
Joined: 2007/04/14

Mooi gedaan Sam.  Jy weet nou van erfaring hoe vinnig 'n mens warm word as jy tegnies ry.  Dis hoekom die GS-baadjie soveel vents op het, en hoekom 'n mens warm goed aftrek voor jy begin ry.

My eerste keer was met Country Trax, en ek het 'n chiepie broek en baadjie van sjina gehad.  Die ding was water- (en lug)- dig, met niks ventilasie.  Die sweet kon nie eens uitloop nie!  D'ie fout sal ek nooit weer maak nie.

Tony is reg - oefen 'n paar keer 'n week op mooi gras waar 'n val geen skade kan aanrig nie.  Kry vir jou sommer 'n klomp cones van Sportmans Warehouse ook.  Dit is ook baaie goeie oefening en meer pret as "jim".

Committee: Webmaster / Ride Captain

Q
Q's picture
Offline
Joined: 2015/11/12

Hi Sam

Ek het dit geniet om jou artikel te lees en kan saam stem.

Ek het level 1 gedoen met Neels in April, en baie geniet.

Maar ek het ook 'confidence' verloor deur te val en ook nie die figure 8 te kon doen nie.

Daardie tyd het ek my bande geblameeer (standard Annekees). En ook dat ek te veel fokus op die cones. (look up!)

Maar ek het ook daarna besef ek kan eintlik niks anders blameer as myself nie. Dit is nie die bike nie, maar ek.

Ek het 'n parkie met gras waar ek kan gaan oefen. Probeer dit nog af en toe gaan doen.

Iemand (ek dink dit was Andyman op 'n breakfast run deur die Durbanville plase), het ook goeie raad gegee. Kry vir jou 'n stukkie grond pad, waar jy kan oefen en net leer. Ry daai pad soveel as jy kan. Oefen jou emergency braking ens. Ry daai pad vinniger en beter elke keer. Ek het 'n 2 KM strip met dips, los klippe en bietjie los sand wat ek ten minste een keer 'n maand gaan ry. En ek ry hom 'n paar keer op en af elke keer.

Ek weet jou bike is jou baby. Jy voel jammer as jy hom seer maak. Maar jou bike is gebou vir wat jy wil doen. Gebruik dit. Ek dink jy sal meer respek kry vir jou bike vir wat hy vir jou kan doen as om te worry oor 'n paar skrape en plastiek dinge wat kan breek (wat jy kan reg maak).

Net 'n laaste ding. Leer van endurance. Ek ry nou all die afgelope paar weke in stad toe vanaf Somerset West. Vroeg oggend en party keer terug na 8 uur in die aand. Met reen, en die Kaapse dokter, taxies en windgat karre wat ook pla. Ek het dit gehaat (eintlik nog steeds), maar ek het my 'mindset' verander. Ek 'endure' dit, en leer. Eendag gaan dit goed te pas kom.

 

“First you get the feeling, then you figure out why.” ― Robert M. Pirsig, Zen and the Art of Motorcycle Maintenance
Offline
Joined: 2016/06/20

Dankie David, ek weet die fiets is aardse dinge en dat ek seker te "heilig" op my goed is. Dit is nou maar hoe ek aanmekaar gesit is. Ek dink nie ek gaan nou na 52 jaar verander nie. Ek probeer....

Offline
Joined: 2016/06/20

Dankie vir jou terugvoer Charles. My GS baadjie is die "dry jacket". Hy het ongelukkig nie soveel vents op nie. Ek moes maar na Neels geluister het, maar nou weet ek. Ek moet meskien kyk na die Raleigh jacket.

Ek gaan definitief kyk na cones by Sportsman warehouse. Daar moet geoefen word. Ek moet ook sy "balancing point" baasraak. 

Offline
Joined: 2016/06/20

Hi Q,

Dankie ook vir jou raad en terugvoer. Ek het ook gedink my Anakee 3's is nie gemaak vir grondpad nie. Na ek gesien het hoe Niël met sy Anakees die grondpaaie aandurf het ek geweet dit is 'n kop en "skills" probleem by my.

Die feit dat ek nie die fiets wil seermaak dra dan ook by dat ek styf is en die fiets baklei en hy terug baklei. Ek het elke keer tweede gekom. Ek moet ook my "mindset" verander. Dit is makliker gesê as gedoen na soveel jare.

Ek het 'n paar paaie hier rondpm my(Durbanville) waar ek kan gaan oefen. Dit wat ek by Neels geleer het gaan goed gebruik word. My volgende level 1 gaan beslis anders aangepak word.

 

Sam

Ludwig Booyens's picture
Offline
Joined: 2016/05/06

Hi Sam,

Ek voel ook soos jy oor my GS. Hou van hom sonder duike en skrape. Ek wil egter baie graag begin grondpad ry maar moes a.g.v. ander familie verpligtinge die level 1 kursus op 4 Desember misloop. Ek bly in Langebaan en miskien moet ek en jy oor die vakansietyd probeer bymekaar kom en n paar gemaklike grondpaaie saam aanpak. Daar is dalk van die gesoute lede wat n paar sulke paaie kan aanbeveel. Ons kan mekaar moed inpraat en herinner om genoeg water saam te neem. Bel my gerus by 0836296536. Miskien is daar n paar ander nuwelinge wat wil saamry.

Ludwig.

Offline
Joined: 2016/06/20

Hi Ludwig,

Baie dankie vir jou boodskap. Ek is so dankbaar daar is van julle ander manne wat ook so voel oor julle fietse soos ek. Ek besef ook daar sal 'n kopskuif gemaak moet word want hy is ook gebou om sy bande vol grond te kry. Gaan ek "single track mountain bike tracks" met hom aandurf? Nie 'n manier nie. Ek ken ook my perke en die fiets moet my nog 'n hele paar jaar hou. Dit is vir my special om hom uit die motorhuis te trek, al is dit 'n 2009 model. Ek gaan beslis met jou kontak maak en as die werk my toelaat, kan ons kyk of ons by mekaar kan uitkom. Ek hou van die "genoeg water saamry"

Die ergste is dat ek 4 liter by my gehad het en dit nie gebruik het nie. Duur les geleer maar daar is nie pille vir.....

Groetnis

Sam

Johan Gelderblom's picture
Offline
Joined: 2016/12/14

Dankie Sam .. en vir die ander manne se insette. Dit is great om van jul ervaringe te lees en hopelik kan ek ook van dit toepas. Soos jul se, die jonger dae se scrambler ry in die koppies en groot modderpoele is lank al vergete. Ek het my GS nou so 3 weke (2006 - 1200) en ek geniet hom sommer baaaie, het al die grondpad verby Mofam, Highlands en Valley paaie aangedurf en hy loop Mooi. Sommer die berg af tot by Buttonquail oord, daar aangekom is daar net n paar ernstige 4x4's wat daar staan, toe besef ek ek het miskien te veel afgebyt, maar die pad terug boontoe was n fees en ek het die sandput wat my so lelik skrik gemaak het met die afgaan slag, sommer so hanteer.(windmeul se moses). Ek is verseker daar met die volgende skool. En na ek als hierbo gelees het gaan ek vir my n lekker sagte rugbyveld soek, dit is mos nou skoolvakansie :-)

Offline
Joined: 2016/06/20

Hi Johan,

Ek hou van jou sagte rugbyveld idee! Ek dink nie die manne gaan so gelukkig wees in die nuwe jaar vir al die spore wat ek meskien gaan agterlaat op die middel lyn nie wink

Jy durf al klaar meer as ek aan. Geniet jou fiets en kyk uit vir daardie level 1 vroeg volgende jaar. Ek gaan hom beslis weer doen.