Wupperthal in een dag

GeelKameel's picture
Hier is 'n "Kyk-weer" herhaling van die Wuppertal Tripverslag, soos aangevra deur Charles. Wat 'n great trippie daai! sommer lus en stel ander trips uit en doen dit weer! Kyk ook na hierdie link om al die fotos en kommentare te sien. http://www.bmwmotorcycleclubcape.co.za/forum/Yabb2/YaBB.cgi?num=11615892... -------------------------------------------------------- Jeeptrack na Wuppertal Die Jeeptrack tussen Matjiesrivier en Wuppertal is 'n moet vir enige GS ryer. Sowat van variasie in pad toestand en soveel natuurskoon in een dosis sal jy baie ver soek om beter te kry. Drie van ons het 'n een-dag toer onderneem vanaf Bellville na Wuppertal en terug via Clanwilliam. Ons het ses-uur die oggend vertrek, op Ceres petrol volgemaak en koers gekies Noordwaards na die Sederberg. Die hele rit was netmooi 'n dagreis, ingesluit drie langerige stoppe plus 'n hele klomp kort foto-stoppe. Ons was terug in die Kaap 12 ure nadat ons vertrek het. Dus, dit kan gedoen word in 'n dag, sonder om te jaag. Mits jy VROEG begin, en geen skade of probleme oorkom nie. 'n Veiliger en baie sinvolle opsie is om eerder 'n twee-dag toer te doen en iewers in die Sederberge oor te slaap. Ons het Wuppertal bereik teen eenuur, Clanwilliam teen 3uur en Citrusdal teen 4uur. Die eerste twee uur was dit koel, amper koud, omdat die bietjie son wat daar was, agter wolke geskuil het. Algaande het dit warm geword. Teen middag het ons die volle hitte van die Sederberge gevoel. Maar die avontuur was die hitte werd. Verby Prins Alfred Hamlet en deur die ongelooflike Gydo Pas tot by die regs afdraai by Op-die-Berg. Nog 'n entjie teer, toe grondpad. Daar bande afgeblaas en die grondpad aangedurf. Terloops, 1.5bar voor en agter werk baie goed vir my. Ons het fluks gevorder deur die Zuurvlakte en Blinkberg Pas. Elke nou en dan gestop vir fotos en 'n sluk water.Teen die tyd dat ons Mount Ceder bereik het, was dit so warm dat ons met groot entoesiasme alles wat moontlik was, onder die ryklere uitgetrek het. Langs die pad by Mount Ceder is 'n bloekomboom wat jare gelede omgeval het. So le^ hy plat op die grond, met drie volgrootte bome wat sommer so uit sy kant groei. Volgende stop was Oasis. Lang ruk vertoef met 'n koue bier, iets te ete en die geselserige eienaar, Gerrit Karsten. Gerrit het die Oasis 7 jaar gelede gebou, spesifiek as B&B en kampplek. Vandag word hy baie goed besoek deur bikers en backpackers. Een van ons drie se bike se vorige eienaar was toevallig ook daar. Hy het vreeslik belang gestel in sy oud-fiets ('n 1150 GS Adv). Sedert hy die fiets verkoop het, het hy 'n hele paar ander fietse gehad, maar is terug by 'n GS. Sowat 6km anderkant Oasis begin die Jeeptrack by Matjieskloof. Dis 'n afstand van 34 km na Wuppertal. Die eerste paar km is die pad heel beskaafd. Smal, geskraap en die gewone grondpad ry-spore. Mettertyd het dit begin verander na 'n regte twee-spoor pad. En ek is seker daardie dele word nooit geskraap nie want daar is eenvoudig te veel klipbanke. Baie los klippe, maar nie die soort wat bande sny nie. Wat wel 'n wesenlike gevaar is, is groot klippe wat die sagte bande kan laat deurslaan en jou velling beskadig. Spoelslote in die lengte van die ryrigting is volop. Een lekker waterplas, heelwat los gruis en paar kolle ligte sand het gesorg dat jy heeltyd moet konsentreer. En natuurlik baie versigtig om nie die groter klippe te tref nie. Meeste van die pad in 2de rat, paar stukke 3de. Hier en daar 1st of 4de. Steiltes op en af, skerp draaie en skielik stop vir 'n foto het ook bygedra tot die plesier. Ek moet by-se^ - heelparty fotos het ongeneem verbygegaan omdat mens netnie gestop kon kry nie. Te veel los gruis en te skuins. By Eselbank is 'n waterval, waar ons 'n hele ruk vertoef het. Onder andere ook heelwat tyd gemors op die verkeerde pad. Die waterval is 'n baie rustige plek met lekker koel water. Netreg vir swem en kuier. Iets wat ek nie kan verstaan nie is hoekom daar 'n plekkie soos Eselbank is. 'n Klompie huise met mense en al. Maar hoekom is hulle daar? Wat maak mens daar? Is daar enige verskil tussen Maandag en Saterdag vir hulle? En wat maak hulle op vakansiedae, as die gewone dae so stil is? Daar is heelwat dele met kort stukke sement oppervlak. Veral die laaste deel waar jy afsak na Wuppertal. Dit maak die pad eintlik baie maklik op plekke waar selfs 'n donkie sou sukkel. Terloops, as jy 'n kol sand wil systap en 'n proteabos is teenaan die pad…. gaan vir die sand. 'n Proteabos pluk jou stuur dat jy in elk geval deur die sand ry, plus 'n ent deur die veld!. Jeeptrack na WuppertalJeeptrack na Wuppertal Dis 'n ongelooflike uitsig as jy oor die laaste bult ry en die vallei met Wuppertal verskyn voor jou. Dis soos 'n eersteprys wat aan jou oorhandig word omdat jy die moeite gedoen het. Onthou om net daar te stop vir fotos. 'n Kort entjie verder is die nedersetting weggesteek agter 'n koppie. Van Wuppertal af sowat 60km grondpad na Clanwillian, verby die Tra-Tra berge, oor Hoek se Berg, verby die Biedouw vlakte en deur die Pakhuispas. Lekker en goeie grondpad, met sy skelm draaie hier en daar. Ook heelwat teer stukke om dit nog makliker te maak. Petrol en koeldrank op Clanwilliam. Vandaar al met die rivieroewer langs op 'n heerlike grondpad (oos van die rivier, parallel met die teerpad wat anderkant die Olifantsrivier loop. Op Citrusdal het ons die son se stand bekyk, mekaar beraadslaag en besluit om die bande te pomp vir die teerpad Kaaptoe (betyds vir 2006 se laaste F1 wedren) Hierdie is 'n rit wat ek beslis gaan herhaal, met 'n oorslaap iewers. Elkeen wat 'n GS ry moet daardie pad ry. En neem maats saam. Jy wil nie daar alleen wees as jy vashaak met skade of probleme nie!