A trophy to my GS

A trophy to my GS

To my English speaking friends, with great respect to you, I write this in Afrikaans, (want dis mos my taal), and sure you will forgive me for this. This is a story about my personal experiences of the BMW GS Trophy 2019 at Dullstroom.

Dis ’n lang storie die, so lees hom wanneer jy rustig is en tyd het.

Met my goeie vriend Geoff Russell se laaste toer na die legendariese Jurg se Kaya op die Weskus sowat drie jaar gelede, het ek vir BJ Vosloo ontmoet en verneem dat hy graag wil deelneem aan die GS Trophy. My belofte was dat indien hy die span maak, ek na die geleentheid sou gaan om hom te ondersteun. Ek het toe die 2017 GS Trophy in Badplaas bygewoon om die Wes-Kaap span te ondersteun, maar ongelukkig was BJ nie deel daarvan nie. Na baie bloed en sweet en ure se tyd op sy GS, is BJ gekies as een van die drie finaliste van die Wes-Kaap span 2019 om in Dullstroom deel te neem en kon ek mos toe nie my belofte aan hom verbreek nie. Ek was sekerlik die eerste persoon wat my kaartjie vir die byeenkoms bepreek het.

My besluit was om ’n paar dae vroeër te ry om sodoende vir my hero, my pa van 88 jaar jonk, in Pretoria te gaan kuier en dit as ’n goeie verskoning te gebruik om al die pad met die GS te ry en dan sommer in Dullstroom ’n draai te gaan maak. Of is dit dalk andersom? (askies Pa)

Na weke voor die tyd se beplanning van my roete, vertrek ek op Vrydag 30 Augustus net na 05h00 van die huis met ’n lied in my hart. Net anderkant Touwsrivier draai ek regs op die Witteberge pad en net daar, een meter vanwaar die grondpad begin op my drie lange dae reis na Pretoria, gooi die GS my af. Nou ek is nie een wat my voertuie name gee nie, maar ek knoop darem ’n geselsie so af en toe aan wanneer dit nodig raak. In skaamte tel ek die fiets vinnig op voordat ’n reisiger wat op die N1 in die vêrte verby ry my dalk raaksien. In die gesprek wat daarna gevolg het met die ongeskikte ding (op daardie staduim), vertel my GS vir my: “ Wat het jy gedink jou dom d*nner? Dit is minus 3 grade celcius, die yster stawe van die motorhek is gevries en seepglad. Het jy nie die yskristalle gesien nie? En met dik winters-handskoene het jy maar min throttle beheer en toe draai jy my oor ook nog. Klipharde bande ook? …Dit sal jou leer.” 

Net daar word banddruk verlaag (soos wat gewoonlik gedoen moet word wanneer jy grondpad ry) die “mode” knoppie gedruk om van “road” na “enduro” te verander wat die traksiebeheer en ABS verander. Die winters handskoene word vir somers handskoene geruil. Ek trek weg met lekker binnepret in my gemoed want die stofpad begin en ek en fietsie verstaan mekaar nou weer, al bewe ek van die koue. Nog nooit het ek so koud gekry nie. Nie eers in Sutherland nie. 

Die Witteberge pad is seker een van die mooiste en lekkerste stukkie grondpad om te ry. In die agt jaar sedert ek motorfiets ry was ek al tientalle kere op daardie pad en nog nooit ’n ander voertuig anders as ’n motorfiets daar gesien nie. Net voor Laingsburg so klein stukkie teerpad wat my lei tot op die dorp vir ’n koppie warm koffie en iets om te eet. Daarvandaan terug op die stofpad net buite die dorp deur die Moordenaars Karoo, rigting Merweville. ’n Hele paar plaashekke wat oop en toegemaak moes word op ’n tweespoor pad wat maak dat ek nou al goed opgewarm is totdat ek naby ’n plaasopstal ry en sien ’n boere-oomie wat met krom rug leun op sy kierie en tuur oor die droeë veld na ’n paar skape. Ek neem sommer aan hy is die grondeienaar en stop dadelik en vra vir Oom of ek oor sy grond mag ry en komplimenteer ek hom oor die pragtige landskap, al is dit droog en die arme diere is honger.

Na Merweville is ek deur die Oukloofpas tot in Fraserburg, deur Carnarvon, Pampoenpoort, Vosburg se rigting en arriveer net voor sonsak by my eerste oornag bestemming, Rosedale Guest Cottage sowat 14 kilometers wes van Britstown waar Dillys vir my ’n heerlike bord Karoolamsbredie voorsit. ’n Oulike kliphuisie, bietjie eksentriek en vol goetertjies, maar skoon en met ’n pragtige uitsig oor die vlaktes en omliggende koppies. Ek gaan slaap maar vroeg want more is weer ’n lang dag.

Voor sonopkoms is ek fort en ry vir eers teerpad om tyd op te maak tot by De Aar. Toe na Phillipstown waar my Pa gebore is, maar ek vertoef nie lank nie want dit lyk maak trietsig en vervalle daar. Verby ’n plek met die naam Hondeblaf na Petrusville tot in Orania waar ek stop vir ’n lekker ontbyt. Nogals ’n netjiese plek diè Orania plek en die mense is gaaf. Daarvandaan oor die Garieprivier met die stofpad verby groen spulpunt landerye en deur ’n plek genaamd Wanda, Rooipan en toe oor Koffiefontein, tussen wildsplase deur met hoë heinings weerskante van die pad en ’n ou staalbrug oor die Modderrivier rigting Boshof toe, maar die GPS neem my op ’n tweespoor paadjie deur wat duidelik privaat grond is want daar is tienduisend hekke om oop en toe te maak. Gewaar nie ’n siel nie en bid intussen net dat een van die hekke nie gesluit is nie. Ek sien baie springbokkies. Wittes, swartes en die gewone bruin met wit outjies. Almal gelukkig saam in een kamp en wei op die geil grasvelde. Toe Hertzogville oor Baberslaagte, deur Hoopstad tot by Bothaville waar ek ’n slaapplekkie soek wat okey was maar nie soveel dat ek iets daaroor kon huis toe skryf nie.

Die volgende dag trek ek ’n bietjie later weg want dis nie meer vêr nie en daar is meer teerpad. Net so oppad na Viljoenskroon sit daar drie patryse in die pad wat toe opvlieg, maar die een maak ’n u-turn. Teen ’n goeie spoed koes ek maar tref hom bulls-eye, reg op die GS se voorlig. Ek voel so sleg oor die dood van die arme dier en dank die Liewe Vader want dit kon veel erger gewees het. Die res van die reis na Pretoria oor Parys, Sasolburg en vuil Vanderbijl was maar oninteressant.

Sondag middag arriveer ek in Faerie Glen, Pretoria en word ingewag met Ma se lekkerste beesstert en stampmielies. My keel is sommer hees na die eerste uur van gesels want die vorige drie dae het ek nie baie gepraat nie. Die volgende drie dae kry ek kans om my ouboet en skoonsussie te sien en kuier te lekker by my ouerhuis waar ons ingetrek het sedert my standerd 9 jaar op skool. 

Maandag eerste ding moet ek GS se koplig laat regmaak en met die versekering reël, maar verneem van Bavarian Motorcycles dat daar nie onderdele beskikbaar in die land is nie en plak ek toe maar die gebreekte lig aanmekaar met duct-tape. Dinsdag aand by Bavarian Motorcycles in Centurion woon ek ’n “riders briefing” by waar die roetes en veiligheids aspekte bespreek word wat daarvandaan op Donderdag met 180 ryers na die GS Trophy na Dullstroom sou vertrek en ontvang elkeen ’n geskenkpakkie met t-hemp, koffiebeker en ander lekker goedjies.  Ek ontmoet vir Len, wie my rider-buddy sou wees. Hulle laat nie toe dat jy alleen ry nie, want “You ride alone, You die alone”. Gmffff, ek ry al vir meer as 2000 kilos op my eie. Ek vertel vir Roger wie die baas van die plaas is daar by Bavarian van die stukkende lig en hy sê nee boet, jy kan nie met daai lig ry nie. Bring hom in die volgende oggend en ek haal ’n lig van ’n ander bike af vir joune. Tjoef-tjaf is die koplig vervang en versekerings-eis van meer as R25 000 is goedgekeur. Dis nou PSG, onderskryf deur Santam, wie die BMW versekeringsboek onlangs oorgeneem het. Fantastiese diens en nie eers ’n bybetaling nie, want ek is ouer as 50. 

Ek vertel die tegnikus dat ek ’n klap geluid hoor wanneer ek oor ’n growwe padoppervlakte ry en hulle vind uit dat die voorste skokbreker se olie uitgelek het en die hele ding vervang moet word. Met die GS Trophy wat die volgende dag begin is die werkswinkel tjok-en-blok maar hulle werk oortyd om my fiets die volgende oggend ses uur reg te hê om te vertrek na Dullstroom. Lenny die werkswinkel bestuurder reël met Shane Hoskins by Donford Motorrad Kaapstad vir ’n nuwe skokbreker wanneer ek terug is by die huis en installeer intussen ’n opgeboude skokbreker wat later teruggestuur sou moes word van die Kaap. Die stukkende shock moet ek saamneem op die GS. ’n Hele lang storie en gedoente maar die manne van BMW se diens is absoluut uitstekend en besef ek weereens waarom ek hierdie handelsnaam en produk ondersteun.

Donderdag oggend voor sonopkoms laai Pa-hulle my af by Bavarian Motorcycles en my GS is gereed. Gepoets en lyk soos ’n splinter nuwe een. Sommer daar maak ek en Len vriende met ander ouens, Greg, Stephan, Diederick en Altus en ons ses trek weg in ’n groep. Wat ’n fantastiese roete (meestal stofpad), en my nuwe biker-buddies is onverbeterlik. Ons ry ’n teen ’n lekker tempo en alles en almal ”gel” net lekker. Dit was beslis een die hoogtepunte van die hele week.

Op Dullstroom aangekom, gaan registreer ons by die bivoac en elkeen is na sy onderskeie akkommodasie. Myne was ’n Airb&b wat ek maande gelede bespreek het en is baie gerieflik. Sommer loop afstand na die GS Trophy arena. Die aand kom ons bymekaar in die groot tent vir die openings toesprake van die byeenkoms en inligting oor die verskillende roetes wat ons die volgende dag kon ry. Meneer BMW Motorrad Suid Afrika homself, Edgar Kleinbergen vra nogal vir die gehoor wie die vêrste gery om by Dullstroom uit te kom. Ek spring op en wys twee vingers. Hy vra twee duidsend kilos?….ek sê.. “en sommer meer”, want toe het ek al 2350 kilos gery van die Kaap af.

Deur die nag begin dit reën en op navraag stel die marshals die volgende oggend voor dat ons die groen roete (dis die maklike stofpad roete) moet ry as ons nou regtig wil ry, want die oranje en rooi roetes lyk maar sleg en die mis is dik. Ons groepie ry toe deur die mis die roete na Tonteldoos en stop later vir ’n warm koppie koffie by ’n klein padstal /winkeltjie wat die enigte van twee geboue op Tonteldoos is. Twee tafeltjies binne en ’n brandende kaggel laat dit heel gesellig lyk. Toe maak die hemele oop en dit sous. Ons bestel sommer nog tjoklit melkskommels ook net om langer te kon sit by die tafel langs die vuur. Heelwat later in die dag, sou die GS Trophy kompetisie deelnemers daar in die pad by Tonteldoos hullle GS vernuf op die toets stel maar ons sien dat hierdie reën moeilikheid gaan maak en besluit ons om verder te ry wat nou in ’n modderpad verander het. Ek sien later ’n baie lanie BMW X5 langs die pad staan en herken ek dadelik vir John Carr en Neil Berry van Donford Motorrad Stellenbosch. Ek is so bly om bekende Kapenaars te sien en stop dadelik en besef hulle het ’n pap wiel, maar gelukkig het ek ’n puncture repair kit en klein kompressor en ons help die manne gou-gou om weer om die grênd kar weer aan die ry te kry. Daar is ek toe sommer BMW-on-call vir BMW. Dit was so lekker om iets vir hulle te kon doen, want hulle beide het vir my soveel in die verlede uitgehelp om die GS op die pad te hou.

Weer terug in Dullstroom trek ek vir GS in by die bivoac en vra die tegnici om te kyk na twee los speke op die voorwiel. Gratis en verniet maak hulle dit vinnig reg met ’n spesiale stukkie gereedskap. Kudos aan die BMW werktuigkundiges wat heeltyd aan diens was om enigeiemand te help. Toe kyk ons Japan vs Springbokke warm-up game en is ek daarna na my huisie, vat ’n lekker stort ek klim onder die snoesige duvet maar dis nie lank voordat my nuuskierigheid my weer uit die vere haal, en ek is terug na die groot tent. Sommer per voet. ’n Bottel rooiwyn en ons gesels lekker bike-stories met die mense, al is dit koud, vrek koud. Kudos aan die spyseniers wat ons aan tafel bedien het met groot platters smaaklike kos om van te kies en keur.

Daardie nag hoor ek nog effens druppels op die dak maar gelukkig lig die mis die volgende oggend. ’n Eenparinge besluit van ons groepie dat ons die oranje roete na Kloppenheim gaan ry wat toe nie meer ’n oranje roete is nie, maar rooi. Rooi omdat dit modder is, en dit glad is en die modder is rooi. Ek slaat neer en knoop weer ‘n geselsie aan met my GS. "Dis weer die dik handskoene" moes ek hoor. ’n Ander man koop ook grond. By Kloppehheim, ’n vyfster oord met wildsbokkies wat wei en als, koop Altus ’n ronte ietsie om ons op te warm. Die roete terug na Dullsrtroom is stuk-stuk al opgedroog en ons kan GS se oor draai, maar ek vat dit stadig en hou die ouens ’n bietjie terug. GS het mos gepraat. Nog ’n man koop grond. Hulle besluit om nieteenstaande die tweede oranje roete te gaan ry maar ek maak verskoning dat ek moet gaan pak vir môre se ry huis toe en ek wou inelkgeval my span, die GS Trophy Wes-Kaap Span gaan ondersteun by die laaste kompetisie uitdunne.

Die manne het toe nie die roete voltooi nie want een ou het iewers ’n verkeerde lyn gekies, in die modder geval en sy GS land op sy been en breek die fibula op twee plekke en die ligamente is af soos ons later vanuit die hospitaal verneem. Kudos aan BMW-on-call wat so gou op die toneel was met paramedici en sy GS na die bivoac toe gesleep het. Later hoor ons dat ’n ander man, onbekend aan my, met die helikopter opgepik en na die hospitaal vervoer moes word. Ons kry ook nuus dat hy lewe met net ’n gebreekte sleutelbeen en ’n paar af ribbes.

Saterdag middag word die laaste deel van die GS Trophy kompetsie op die gras langs die dam gehou en ek cheer vir my span, maar net voor die afvêre begin, gesels ek met John Carr. Hy vertel my van ’n GS-ryer wat die dag vantevore in die water aan die oorkant beland het. Terwyl hy so gesels sien ek ’n paar GS’e op die voetslaanpaadjie oorkant die dam ry. Net toe, op daai oomblik val daar nog ’n GS met ryer karplaks in die water. En dis diep daaikant. Tussen tien en vyftien stuks man jaag om die dam met hulle GS’e om te gaan help. Met toue en belde vis die sterk manne die versuipte GS uit die koue water. Gelukkig vir die ryer is dit te vêr vir ons om te sien wie dit is.

Tyd vir uitslae van die GS Trophy kompetisie en die groot tent is jolig en gepak. Van ons groepie is net Greg daar. Altus, Stephan en Diederik is almal weg. Hulle se vrouens het Dullstroom toe gery met die kar en moet hulle vir nou eers familie verpligtinge nakom. Len is in die ambulans oppad hospitaal toe. 

Toe die Wes-Kaap Span as die beste algehele span aankondig word, was ek in ekstase. En toe die verdere verrassing, ons goeie vriend BJ is een die drie ouens wat die span gemaak het om Suid Afrika in die 2020 internasionale GS Trophy in New Zeeland gaan verteenwoordig. Dis die derde hoogtepunt van die week. (Eerste was die voorreg wat ek het om by my ouers te kan kuier) Baie geluk aan BJ en ook die ander manne Cobus Theron en Brandon Grimsted wie ek nie juis ken nie.

Sondag oggend teen ses uur is dit al lig buite en bitter koud, maar warm aangetrek kies ek die vinnigste en kortste pad huis toe om teen 20h30 by die huis aan te kom. 1623 kilometers…one shot! Veilig terug by die huis waar ek sielerus ervaar.

Die GS Trophy is nie net ’n kompetisie vir deelnemers wat die beste ryer wil wees nie. Dis ook vir ieder en elk wat ’n GS ry en sy passie vir die “Make Life a Ride” slagspeuk wil uitleef.

’n Trofee aan my GS!

Hy bring ou vriende bymekaar.

Hy maak vir my nuwe vriende.

Hy bring my by geliefdes uit.

Hy vat my na plekke saam met my geliefde.

Hy bring my veilig by die huis.

Hy voed my oë met nuwe horisonne.

Hy gee my uitdagings.

Hy maak herinderinge.

Hy laat my lewe.

Die trofee gaan aan my GS!

Start of Witteberge Road outside Touws River

 

The Witteberg road to Laingsburg

 

One of the many farm gates in the Moordenaars Karoo

 

Cellphone reception somewhere between Merweville and Fraserburg

 

Drought in the Karoo

Aardvarks creating danger zones

 

Rosedale Cottage

 

View over the Britstown plains and koppies

Lovely tweespoor roads in the middle of nowhere

 

Old Iron bridge over the Modder River

 

A Patridge just flew right in front of me.

 

Departure from Bavarian Motorcycles

My good friend Charles and I talking bike stories

 

BMW-on-call for BMW

 

John Carr, myself and Neil Berry

 

Near Kloppenheim 

 

Between Dullstroom and Tonteldoos. Mist is clearing.

Streets of Dullstroom from my accommodation

 

Dinner is served

 

Greg, Diederik, Len and myself at the table next to the fire at Tonteldoos

 

Diederik, Altus, myself and Stephan at Kloppenheim

Something to warm us up.

 

Deflating tyres

 

Team Western Cape ready to start the challenge.

Myself, John and Charles 

 

Two of the winners, BJ and Cobus

The route map

MAKE LIFE A RIDE

Comments

Geoff Russell's picture
Offline
Joined: 2007/09/25

Fantastic report and pictures Herman. I lived the ride with you.

Eendag as ek groot is.

Committee: Ride Captain

GeelKameel's picture
Offline
Joined: 2007/06/21

Tien uit Tien!

Baie dankie vir 'n trip report wat duidelik uit die hart kom!

Dit laat my verlang om weer 'n slag die langpad te vat!

smiley 

Offline
Joined: 2012/09/12

Awesome Report Harry,  Wat n avontuur!  Welldone.

Die dag as ek oud is en julle meer teer ry sal ek saam ry lol

 

Mwendo's picture
Offline
Joined: 2011/04/13

Uitstekende leesstof, dankie Herman!

Ek kan uit persoonlike ondervinding beaam hoe 'great' daai Bavarian Motorcycle mense is - as ek nie 'n Kapenaar was nie sou ek sê hulle is die allerbeste  angel.

Ek dink die twee Donford ouens (sal nie name herhaal nie) verdien beslis 'n paar strafdoppe vir rondjakker sonder die vermoë om op hul eie 'n pap wiel te kan herstel.

--
The only problem with hindsight, is you don't see it coming!