JR se toer na WARMWATERBERG
Na die lekkerte van die Middelpos trip, het Johann JR en vrou Tanya besluit om weer 'n toer te reel – hierdie keer deur die Overberg. Wat gelyk het na 'n doodgewone lekker toer, het 'n onvergeetlike rit geword, met alles wat 'n GS kan vra. Van maklike grondpad tot tegniese stukke -- los grond/klippe, modder, water en reen. Selfs sneeu!
Ons het vroegoggend aan die voet van Sir Lowriespas bymekaar gekom en teer gery tot kort anderkant Botrivier. Daar regs gedraai op 'n grondpad (34°14' 06.76"S, 19°15'25.85"E). Hier is die bande afgeblaas en ons het met groot afwagting vertrek. So'n entjie verder het JR ons links laat draai op 'n stukkie pad wat buitengewoon mooi en lekker was (34°15' 31.36"S, 19°13'21.82"E). Die pad het gewissel van gewone grondpad tot tweespoor met baie los grond. Meer hiervan later.
Hierdie pad het ons na Caledon gelei. Anderkant Caledon uit op die R320 en toe links (34°16' 07.01"S, 19°26' 13.07"E) op 'n grondpad wat parallel met die R316 loop.
Elim, Bredasdorp, Malgas en Heidelberg het gevolg. Buite Heidelberg regs afgedraai (34°01' 57.03"S, 20°57'24.94"E), oor Ertjiesvlei se Berg, rigting Gysmanshoek/Kanetberg (afdraai = 33°53'28.12"S, 21°03'34.90"E). Anderkant Kanetberg links (33°53'28.40"S, 21°03'35.57"E) het ons verby Brandrivier gery tot by die R62. Daar het ons regs gedraai vir die kort stukkie na Warmwaterberg vir die oornag stop ((opmerking – hierdie koordinate dra geen waarborg nie. Ek het dit van Google afgeskryf)).
Volgende oggend noord van die Sanbona reservaat, deur die Oubergpas tot in Montagu. Hier het ons vir oulaas Milo gedrink, bande gepomp en die teerpad Kaaptoe aangepak. In die reen.
Maar, laat ek voor begin. Saterdagoggend 7-uur het 13 bikes onderkant Sir Lowriespas bymekaargekom. Drie bakkies en 'n sleepwa was ook daar, vol gelaai met ons bagasie. Daar was ook 'n 14de bike, maar ons het daai ou eintlik net drie keer gesien op die hele trippie - met die wegtrek, weer by Malgas en toe weer by Warmwaterberg. Daar het hy soos 'n speld verdwyn. Dus, ons was 13 bikes.
Buite Botrivier het ons op die grondpad afgedraai vir ons eerste Milo stop en bande afblaas. Daar weg en 'n paar km later draai JR links af op 'n skelm paadjie. Redelik mooi op heelwat plekke, maar taamlik tegnies op 'n paar plekke. Hoofsaaklik los klippe en steiltes gekombineer. Baie heerlike pad om te ry. Iets van alles vir 'n GS.
Anderkant Botrivier
'n baie mooi driffie
En rustige draaie
Een spesifieke kol, sommer so heel vroeg, het ons kwaai wakker geskud. Ek was heel agter en het nog so rustig gery toe ek skielik stuk of sewe bikes in 'n ry sien staan – die welbekende gesig as daar drama is!!
Dit was 'n steilte, smal en onlangs geskraap. Drie bikes was al deur, maar een het aan die sukkel geraak en die ander moes maar stop.
Die teken van drama - 'n klompie bikes wat staan en kyk
Een na die ander het die manne weggetrek, met wisselende sukses! Dit was eenvoudig net te steil om spoed te kry, en die agterwiel het bitter gou begin skop.
Klippe spat
Vier van die ouens moes optel en weer probeer. Selfs die bakkies het geskop. Padlangs se Corsa bakkie met voorwielaandrywing en swaar vrag moes bietjie aangehelp word (ek dink hy het knobblies nodig...)
Baie klippe het gespat
Die res van die pad tot by Caledon was sonder enige voorvalle. Die groep (behalwe nr 14) het mooi bymekaar gebly en die haastige ouens het geduldig gewag dat almal weer daar is.
Rustig ry
By Caledon het ons 'n vinnige stop gemaak (weereens het ek feitlik heel agter gery, agv te veel stop vir fotos!). By die stop het ek besluit 'n entjie terug is 'n mooi foto en ek is sowat 200m terug vir die foto. Klaar gefoto, en ek sluit aan by die twee bikes wat toe gereed maak om te ry. Lekker, die ander wag seker net hier voor....
Niks van daai, die ander is net weg. Spoorloos, soos nr 14. Ons het ons neus gevolg en kort voor lank 'n grondpad afdraai gekry. Stop. Dink. Raai. Kaart help nie veel… Gelukkig stop daar 'n omie wat sy venster afdraai "Julle soek pad? Hier is nounet 'n klomp sulke fietse hier af in die pad". Baie dankie Oom en daar gaat ons.
By die volgende vurk draai ons soos posduiwe 'n paar keer in die rondte, en kies die suidelike pad. Lank en vinnig gery, maar ons sien geen stof op die horison nie.
Na 'n goeie ent besluit ons dis weer tyd vir kaarte. Ons stop naby 'n kliphuisie waar die pad weer so'n paar vurke maak. Hmmm, kaart help nie veel, GPS ooknie.
Die plaashuis se voordeur gaan oop en 'n jong bruingebrande kerel stap nader met 'n vriendelike soek-julle-dalk-rigting-glimlag. O jislaaik kerels, julle is op pad Hermanus toe. Elim is daaaaar oor, dan regs by die T en dan weer links by die......
Ons was toe al so haastig dat dat ek vergeet het om fotos te neem (dis erg!)
Ons het daar weggevlieg en stof laat draai vir seker 30 minute, toe sien ons 'n bike van voor af kom. Redding!. Terug by die groep word ons vriendelik verwelkom, maar ons was deeglik bewus dat hulle bekommerd was oor ons Houdini streke! Ek het selfs 'n "missed call" van Padlangs se foon af.
So het ons Elim binnegery. Pragtige klein dorpie. So'n lang hoofstraat met eenderse huisies weerskante. Mooi tuintjies en mooi geverf.
Elim se hoofstraat / enigste straat
Tanya het 'n vrag kruideniersware en lekkers om by die Mispah Skool vir Spesiale Onderrig af te gee. Dit is 'n skool vir spesiale onderwys, deur die Morawiese kerk gestig in 1984.
Hierdie stukkie ervaring daar by die skooltjie het 'n knop in my keel laat groei en groei. Ons is verwelkom met 'n uitbundige liedjie saam met die skoolhoof se elektriese kitaar. Daar is 70 kinders, almal uit die Overberg streek, almal met een of ander graad van fetale alkohol sindroom. Vreeslik hartseer om die kinders te sien, en erger nog, dis nie hulle skuld dat hulle so is nie. Een outjie se koordinasie strek net tot vorentoe-agtertoe wieg terwyl sy maats darem kan sing en handeklap.
Kinders begroet ons met 'n vrolike liedjie
Tanya deel lekkers uit
Die skoolhoof vertel dat van die 70 kinders se ouers, is daar net 5 se ouers wat kontak het met hul kind. En dan ooknie gereeld nie. Baie ouers is werkloos, het geen vaste adres nie of is nie opspoorbaar nie. En elke jaar kom daar meer kinders by. Hulle opleiding behels vyf grade/fases. Die basiese fase is persoonlike higiene en basiese netheid. Aan die gevorderde kant word dinge soos handvaardigheid, huisvlyt en kosmaak geleer.
Ons het die seuns se slaapsaal besoek. Baie netjies en skoon. Met bo-mekaar beddens. En matrasse wat vreeslik hol geslaap is. Een van ons groep het belowe hy sal vir hulle twee TVs stuur, en Tanya gaan 'n DVD masjien stuur. Die kinders kan doen met DVD stories. En musiek CDs. En matrasse. En bydraes.....
Met ons vertrek het die kinders in gelid uitgestap en met vreeslik oe-aah tussen die bikes gaan staan. Daar is 'n groot klomp van die kinders wat in hul lewe nognie 'n motorfiets gesien het nie! Kan mens dit glo! En daar het hulle weer iets gesing terwyl ons een-een wegry.
Van Elim af het ons na Malgas gery en met die pont oor die rivier gegaan. Hierdie stuk was baie rustig en sonder voorval of opwinding.
Ons is in drie skofte oor die rivier met die pont. Die pont is 'n baie vreedsame affere, wat deur drie manne oor die rivier getrek word. Dis eintlik ironies dat die hulle stap met die voete, maar dat hulle eintlik doodstil staan. Dis die pont wat onderdeur hul voete beweeg.
Die aandrywing is miskien primitief, maar die tegnologie is daar...
Tegnologie leef saam met die eenvoud van die Pont
Anderkant die pont het ons gasheer worsies gebraai en saam met broodjies en koeldrank bedien. Daar het almal lekker rondgestaan en op die oewer gele^. En besluit bike 14 is verlore. En gewonder hoekom mens saam met 'n groep wil ry, maar dan heel op jou eie ry. Terwyl ons oppak, verskyn 14 daar anderkant die rivier. Die ponteniers het hom gaan haal, net betyds dat hy darem die laaste worsie kan eet. En daar gaat hy weer op sy eie.
Iewers tussen Elim en Heidelberg het ons groep so bietjie verkeerd gery en 'n retoer van sowat 15km in die onbekende in gery. Niemand het juis omgegee nie want dit was 'n besonder lekker stukkie pad. Geskraap, maar dit kon netsowel 'n tweespoorpad gewees het. Langs die pad het ons die mooiste twee Palomino perde gesien. Die Palomino is bekend vir sy veelsydigheid, ratsheid, goeie voorkoms en goeie uithouvermoee.
Wat gaan daar? eisch, Hier kom nog sulke goed!!!
Heidelberg was die volgende stop. Petrol en rugby-telling was die belangrikste hier. Met al die onbeplande wag-vir-verkeerdryers het ons agter geraak met die skedule.
Buite Heidelberg (34°01'57.03"S 20°57'24.94"E) het ons regs afgedraai teen Ertjies se Berg. Die relatiewe vlaktes het plek gemaak vir heuwels en mini-passe. Baie mooi gewees wanneer jy so oor 'n bult ry en die kronkelende grondpad ver vorentoe sien. Die pad was goed en sonder skrikplekke.
Eindelik het ons links gedraai na Kanetberg/Gysmanshoek. Jy kon sommer sien hier kom 'n ding. Skielik baie meer bome/bosse, die pad is baie smaller en vol los klippe. En dit loop in die berg se rigting.
Die suidelike ingang na Gysmanshoek/Kanetberg
Die Gysmanshoekpas is nie veel van 'n pas nie. Van die afdraai (33°53'28.12"S 21°03'34,90"E) ry mens geleidelik op tot op 'n kort plato. Dan sak jy af na 'n nogal digte bos. Op pad soontoe is die Gysmanshoek pas op die oostelike helling van 'n klofie. Twee of drie draaie en opgebou vir sowat 500meter – soveel vir die pas!
Die bos het 'n smal tweespoor pad en 'n paar poele water in die spoor. Niks glad of tegnies nie. Net asemrowend mooi.
Ralph se Hitler-bike-sonder-die-koeelgate in Gysmanshoek
Anderkant uit, oor die nek van die berg en skielik val die vista van die Klein-Karoo voor jou oop. Op die ver horison is Ladismith. Hier onderkant jou is plaashuise, damme en 'n klofie.
Maar dis die laaste wat mens eintlik inneem. Die paadjie af ondertoe is baie los, draaierig en steil. Moenie hier te veel spoed optel nie!!! Remme kan redelik nutteloos blyk te wees. Ek is in 2de en 3de rat af tot onder. Min gesien, maar tevrede. Niemand het geval nie, en twee of drie het gepraat van 'n hekpaal wat net-net misgery is.
Onder op die vlakte links (33°53.45'S 21°03.573'E) via Brandvlei (omgewing se naam) en tot by R62. Hierdie stukkie was maar moeilik met die son wat baie sterk en baie laag was. Vandaar regs op teer tot by Warmwaterberg.
Teen skemer het ons by Warmwaterberg aangekom. Dit is 'n gesellige plek, met veel meer geriewe as wat mens verwag. Hulle het die kroeg en kafee spesiaal later oop gehou tot ons aangekom het. 'n Goed toegeruste konferensiesaal met DSTV, kafee en kombuis. Daar is 'n karavaan staanplek (waar ons tent opgeslaan het) en chalets. En natuurlik die warm water in die swembaddens. Die warmste swembad is 42°C.
JR , Tanya en Nico berei die feesmaal
Die wind het lank en sterk gewaai, dwarsdeur die tent opslanery en die braaiery. In die nag het dit gereen, maar die oggend was mooi stil en koel.
Koel en rustig die volgende oggend
Ontbyt was 'n smaaklike buffet (teen R35 = uiters billik). En die laaste deel van die F1 wedren gratis ingesluit.
Lekker ontbyt - die beste waarde-vir-geld van 2007
Meeste ouens was haastig huistoe, en was nie baie lus vir reen nie. Maar ons het besluit om tog die grondpad te ry. Die lug was mooi oop en reen het onwaarskynlik gelyk.
Die pad was klam en heel mooi. In die Sanbona reservaat het 'n weldoener die kameelperd se ruiter skoongemaak.
Die Ruiter in Swart is weg
Alles wel totdat ons wes gedraai het anderkant die Bellair dam. Die een modderkol na die ander het begin verskyn. Hoe later hoe kwater. Nie lank nie of die een slagoffer na die ander kom tweede in die modder.
Die eerste slagoffer
Wat sleg was is dat die modderkolle nie almal eenders was nie. Party was glad in die spoor, ander glad langs die spoor. Genadiglik was daar stukke "goeie" pad tussen die modderkolle,sodat mens net-net kon herstel van die vorige kol. Later het dit begin reen. Toe was dit heel betroubaar om binne-in die slootjies water te ry.
En nog 'n stukkie drama
Selfs die bakkies kon in sommige kolle nie reguit bly nie. Andries se bakkie moes 4x4 inskakel om terug in die ryvlak te kom.
4x4 om terug te kom na die ryvlak
Nog opwinding
Die steiler gedeeltes was lekker omdat dit baie klip/gruis gehad het en dus min modder.
Steil gedeeltes was baie makliker
Op een kol het my helmet skielik aanmekaar toegewasem. Ek moes selfs stop om skoon te maak. En skielik was dit weer reg. Agterna vind ek uit dat dit gesneeu het in daardie omgewing! Ek het net voor die sneeuval daar deurgery, dis seker hoekom my helmet so geprotesteer het.
SNEEU ! ! !
2 grade C en die Duitse masjien flits alarm
Regte sneeu!
En verderaan JR se groot val. Hy het die skouer van die pad gekies (die afgelope paar km was die skouer heel goed om op te ry...) en te laat besef hy moes liewer daar wegbly. Sy agterwiel het stadigaan na regs uitgewyk, toe begin die bike na links oorleun en altwee wiele skuif. Vyftien meter van die eerste gly af het die bike stil gaan le en JR is bo-oor die bike. Hy het nog 10 meter verder op sy agterent gegly. Baie aanskoulik en baaaaie gelukkig om nie seer te gekry het nie.
Trouens, tussen die 13 bikes het ons omtrent 10 valle gehad. Niemand seergekry, geen noemenswaardige skade aan die bikes. Dis 'n Bestiering!
JR se groot val - van hier voor af tot by daai verste geel bossie
'n Ent verder het die pad duidelik beter geword en by die laaste hergroepering het almal soos vinke geklets van al die adrenalien
Laaste hergroepeer, duskant Montagu
By Montagu het ons 'n lang Milo-stop gehad, petrol volgemaak en bande gepomp. Klein groepies het koebaai gese^ en die pad gevat Kaap toe.
Die groep dapper (en verligte) ryers by Montagu
In terugsig – die nat pad was baie opwindend en baie moeilik. Elkeen is baie trots op die prestasie om heelhuids anderkant uit te kom. En ons lag en gesels daaroor. Maar ons in gelukkig dat geeneen seergekry het nie. Ekself het eers laataand, toe die adrenalien gesak het, normaal begin voel. Ek het een neersit beleef, daarna twee keer se byna-byna neersitte. Een was drie mooi esse tussen die spoor en die pad se rant. Oor lg is ek baie trots om regop te gebly het. Maar dit was naby….
Die terugtog het ses ure geduur, teenoor die vier ure wat ons verwag het.
Daai ekstra twee (onbeplande) ure sal ons nog laaaank onthou!
Bonus: 'n Week later het Johann, Tanya en Nico 'n "re-unie" gehou by sy huis. Elkeen het 'n gelamineerde sertifikaat gekry, vir een of ander kordaatstuk op die trippie! (myne het dit oor baie fotos en verdwyn soos Houdini)
Nico, Johann en Tanya onthaal ons met 'n fees van tuisgemaakte pizza