Botswana & Namibia trip by 2 inexperienced riders

Botswana & Namibia bike trip, Feb 2014

(Botswana deel….)

Voor die trip:

Op die vorige trip vanaf die DRK na SA verlede jaar gesels ons om Namibie te gaan verken iewers in die toekoms. Die toekoms daag toe op, maar daar is mos altyd dinge wat nie uitwerk soos beplan. Soos Deon wat my en Dries nie kan vergesel nie – tog so jammer want die 3 van ons ry so lekker saam.

My trip begin Saterdag 25 Januarie en ek ry vanaf die Kaap na Dries in Warmbad. Het eers ‘n paar dinge om te doen voordat ons Sat 1 Februarie vertrek. Een daarvan was om van die Anakee’s ontslae te raak en ‘n stel 50-50 bande op te sit, maar watter maak? Sal maar hoor by die ouens wat bande opsit wanneer ek Vrydag daar stop.

Lekker geslaap Sat aand en Sondag oggend ry ek toe verder, rustig op my tyd terwyl my gedagtes dwaal  na dit wat voole…..( Lekker man, ons gaan dit geniet. Het immers ons lesse geleer op die vorige trip en ons het ‘n min of meer roete, weet waar om petrol in te gooi, en waar die interessante plekke naastenby is….. Ons het darem ook ‘n saamgeflanste kaart…..).

Net na Laingsburg kom ek by die 1ste van baie “stop-en-go” padwerke aan en moet noodgedwonge stop. Fiets staan en idle want ek vertrou nog nie die nuwe Ultrabatts wat ek ingesit het nie. Lig slaan groen en ons kan ry. Ek wil wegtrek en Vlam (my bike se naam) vrek. No problem, ek start hom gou, maar o wee, die motor slinger net en wil nie vat nie…. Wat nou? Intussen het ek gelees van die 800 wat ‘n brandstofpomp probleem het en ek wonder of dit nou sulke tyd is? Probeer weer en daar vat hy – baie snaaks. Okei, hier gaan ons. So het dit aangegaan en soms het die fiets sommer in die ry en in die middel van die “stop-en-go” gevrek. Dan wag ek maar sodat die pomp kan “afkoel” en die karre in die regte rigting beweeg en ry weer verder. Intussen beplan ek om in Bloemfontein hulp te soek, mits ek dit maak tot daar. Laatmiddag ry ek ‘n klein Karoo dorpie binne en daar vrek Vlam weer. Nogal voor die kerk!! Weet nie of dit snaaks is nie maar dit het gekeer dat ek nie vloek nie…. Terwyl ek so sit en wag dat die pomp “afkoel” vang my oog die skakelaar van die LED ligte wat ek laat opsit het. Ek het dit aangesit om my meer sigbaar te maak en dit was toevallig by die 1ste “stop-en-go” en waar my probleme begin het. Toeval? Ewenwel, ek sit die LED ligte af by beide skakelaars, druk die knoppie en daar gaat ek weer. Miskien kan ek ook net noem dat dit Januarie is, ek IS in die Karoo, en dit IS warm, en ek het WARM klere aan….. By die garage aangekom om water/energade te kry en petrol in te gooi staan daar 2 groepe van 2 bedelaars elk en hulle beskou my as hulle volgende teiken…. Wel, as jy so ver gery het, so lank gesukkel het, dors is, en nie weet of jy die aand langs die pad gaan slaap, is dit beslis ook nie die regte tyd vir ‘n bedelaar om simpatie te kom soek nie… Hulle het my nie lank gepla nie….. Die gedagte dat ek 5 minute gelede nog voor ‘n kerk gestaan het, het nie eers by my opgekom nie…. Wel, ek het my dors geles, petrol ingegooi en die pad gevat en gehoop vir die beste. Wonder bo wonder het Vlam geen problem weer gegee nie… Voila, my probleem is opgelos!!! (het ek gedink/gehoop)

Vrydag oggend (31 januarie) is ek oppad  Pta toe om my fiets te gaan haal wat by Dries se dogter staan terwyl ek sy bakkie gebruik het, toe ek ‘n sms van Dries kry. Ek bestuur en maak dit nie oop nie. Kort daarna lui my foon en dis Dries. Hy wil weet wat ek van sy nuwe fiets dink? “Watter nuwe fiets” vra ek? Hy het mos die Aprilia. “Ek het nou net ‘n ander fiets gekoop en wil net weet watse dokumentasie ek nodig het vir ons trip”, vra/se hy my. Ek skud net my kop. Dries vervolg: “Sal jy asb vir my ‘n agterband saambring, die een sal nie die trip maak nie?”  “Dis reg Dries” se ek terwyl ek wonder of dit wys is om ‘n vreemde fiets wat jy "'n halwe dag lank besit in Afrika in te vat"…. Daar is niks soos ‘n lekker uitdaging nie……

Die trip begin:

Na ons Vrydagaand lekker by Dries gekuier en gebraai het val ons Saterdag so 9h00 in die pad. Ons het eers Saterdag oggend gou gepak en ek het die Sena’s op my en Dries se helmets gesit sodat ons darem met mekaar kan gesels. Dries is nie gewoond om te gesels as hy fiets ry nie en waarsku my dat ek nie sommer musiek of die radio moet aansit nie…… ( hy verwag baie….)

Ons plan is om Botswana in te gaan by die Derdepoort/Sikwane grenspos en ons ry in ‘n algemene rigting soontoe. Omdat ons Adventure fietse ry wil ons darem ook van die “beaten track” afkom, en dus soek ons die grondpaaie op…. Darem soveel mooi dinge om te sien as jy grondpad ry. Het lank gewonder hoekom dit is, en tot die moontlike slotsom gekom ons ry stadiger op grondpaaie en kyk meer rond, terwyl landmeters ‘n “maklike” en nie noodwendig ‘n mooi roete soek.

Op Dwaalboom maak ons vol en eet gou iets ook…. 

                      

Slaptjips bly maar ‘n wenner……

Moet darem die staaltjie van Dwaalboom vertel:

As jy ‘n motorfiets met bagasie het en jy ry in afgelee gebiede is daar altyd belangstellendes en so ontmoet ek toe die oppotunistiese local inwoner. Hy soek werk, geselskap en wie weet wat nog en wil toe my Facebook, twitter, bbm, geslag, ouderdom en tel nommer he. Was nie lus om dit vir hom te gee nie en vertel hom ek ken nie sulke tegnologie nie (wat nie ver van die waarheid is nie),en met die haal ek  my stok-ou nokia uit my broeksak (wat nie eers ‘n kamera het nie) en slat sy voete onder hom uit. Hy antwoord my: “Eish, ek kan sien jy is baie oud”…. Hehehehee …..

Ons ry verder en stop gou by ‘n Algemene Handelaar voor ons Botswana ingaan. Jy moet op sulke plekke uitkom om regtig te sien wat ‘n algemene handelaar is… Hulle verkoop enige iets – van ‘n fanbelt tot melksalf…… En jy kan bier ook daar koop, wat ek natuurlik gedoen het want dit is mos warm en ons het stofpad gery.

Ons het die foto daar geneem……

Die grenspos oorsteek was sonder voorval en ons beplan om vanaand in Molepolole,  Lethakeng of Takotokwane tent op te slaan. By Molepolole (of Moleps soos die locals dit noem) aangekom maak ons weer vol en vind uit oor slaapplek by een van die volgende 2 dorpe. Nee, ons luck is uit, nerens weet hulle van slaapplek vorentoe, of selfs in Moleps nie…. Okei, tyd vir ‘n bier en planne maak. Die lodge waar ons bier drink vra P220pp om ons tente in hulle agter-yard op te slaan. Dit sonder dat daar vir ons ‘n plek is om te was…… Nee, dit sal nie werk nie, en met die sien Dries ‘n lekker groot boom langs die pad en deel my mee dat ons vannaand net daar slaap!!!! Dis maar net hoe Dries is….

Nou ja, terwyl ek en Dries die boom se moontlikhede bespreek stap ene Gao nader – hy het daar gesit toe ons inkom en kon alles hoor wat ons se….. (hy moes dus Afrikaans verstaan het). Hy verneem van ons problem en nooi ons om saam met hom te stap… Weet nie hoekom nie maar vermoed hy wou ons dalk ‘n ander plek wys waar ons kon slaap…. Jou wragtig, sy huis was 50 m van die Lodge af en hy bied aan dat ons in sy voortuin kon slaap… Net daar verdien hy ‘n bier of twee….

                      

Gao tot ons redding

Right, nou het ons slaapplek maar ons moet kos kry. Wat anders as braai, en so ry ons dorp toe om voorraad te gaan koop……

                      

Selfs Gao se klonge help ons om tuis te voel…

Dit het gereen in die nag en ons staan effe nat op, maak koffie, pak op, en val in die pad. Ons ry kuier-kuier tot in Kang waar ons elk ‘n heerlike 500 gr T-bone verorber. Wat vir my hier interessant was is dat Dries vir hom ‘n “well-done” steak bestel het terwyl myne “medium” was. Wie se kos sou ‘n mens eerste verwag? Wel, Ek het gedink dit sou myne wees en dan Dries s’n maar dit was andersom….. Op Kang verneem ons na die toestand van die paaie na Charleshill, en dan bedoel ek die grondpaaie…. Orals was almal eenstemming, “The roads are bad”. Nou dit vertel jy nie vir my en Dries nie want ons is mos nuuskierig en wil weet hoekom nie….. Die pad na Hukuntsi is teer en Dries raak verveeld en toets sy nuwe fiets se topspoed…. Gou-gou is ons daar, maak vol en blaas bande af…… Ek sit ook sommer my go-pro aan…… 320 km se grondpad le voor…. Lekker, dit is mos wat ons wil he…….

Gou –gou wonder ek en Dries hoekom hulle ons gewaarsku het? Die pad is ‘n highway man!! Hier en daar ‘n bietjie sand en die vorige aand se reen het bietjie modder en waterplasse agtergelaat maar ons is reg daarvoor….. O ja, toe ek my bande laat opsit het was daar nie vir my ‘n 50-50 agterband nie en ek moes noodgedwonge die Anakee 2 ophou…. Voel nie te sleg vir my nie. Dries ry agter en dit is groot pret om sy kommentaar te hoor as ek hom met modder bespat…. Sy taalgebruik is ook nie altyd suiwer nie….. Skielik voel iets nie reg toe ek begin wobble, en as dit nie vir “Ridders van die Grondpad” was nie sou ek sekerlik hard gesloeg het…. Hulle raad is: “Staan op, kyk op, en maak oop” Ek weet nie of dit die opkyk na die hemel was of die oopmaak wat gehelp het nie maar Dries weet te vertel dat my agterwiel erg uit lyn was… Sjoe, dit was close, baie close….. maar nog steeds lekker….

So kom ons toe uit by dit waarteen ons gewaarku was…. ‘n Sandpad!! Dik sand, baie dik sand. Al 55 km daarvan!!! So what, lets go….. Ek ry nog steeds voor en Dries agter, en die volgende oomblik hoor ek Dries se: “Daan ek het geval, jy moet gou kom”….. Nou hoe de hel sit jy ‘n sidestand uit in sulke sand? Ek wil die fiets neerle en hardloop maar dis ‘n bietjie ver en ek draai om. Ek hoor weer: “Jy moet gou maak…” By Dries aangekom le ek Vlam sommer op sy sy neer en hardloop om die fiets van Dries se enkel af te tel. Dries se enkel is gekneus en geswel maar darem okei, dankie tog…. Nou ja, nou is dit my beurt om Dries te volg. Glo my, die sand ryery verg konsentrasie en ek kan nie eens waag om anderpad te kyk nie. Miskien net gou vertel dat ons in ‘n 30cm bree spoor moet ry wat omtrent 15 tot 20 cm diep is…. So gebeur dit toe ek my konsentrasie laat slip en kadoef, daar trek ek …

 

My beurt…..

En so worstel en stoei ons deur die sand en af en toe steek Dries sy voet uit – die seer een – en dan wonder ek hoekom hy nie taal as vak op skool gehad het nie…. Genadiglik breek die einde aan en ons kom weer op ‘n decent grondpad uit….. Nog steeds sand, waterplasse en modder maar ons laat waai weer. ‘n Drif doem voor my op en ek som my opsies op. Geen ander pad as deur die middel nie. Versigtig gaan ek deur maar dit blyk toe nie versigtig genoeg nie, en iewers in die driffie het ek die gevreesde “snake-bite” opgedoen. Wel, dit raak donker en daar is nie genoeg tyd om die papwiel reg te maak en die naaste dorp te haal nie…… Wat bly oor - ry in die bos in en slaan kamp op. Dankie tog vir vanmiddag se lekker t-bone want nie een van ons is honger nie…… Asof die sand, die vallery, en die papwiel nie genoeg is nie reen dit mos toe daai aand weer…..

      

Koffie water…..

Kamp in die Botswana bos…

Vroeg die volgende oggend word daar herstelwerk gedoen en ons kan weer die pad vat. Dink Dries het ‘n voorbode gehad met die papwiel regmaak, want hy wou oefening kry…..

                        

Tyre services aan die werk…. Dankie Dries!!

                

Word vervolg.......                    

Comments

Mwendo's picture
Offline
Joined: 2011/04/13

Lekker!!!!!

Dankie Danie. Dit lees lekker én ek ry lekker saam!
Ek wag in spanning vir die "Word vervolg..." 

--
The only problem with hindsight, is you don't see it coming!

 
GeelKameel's picture
Offline
Joined: 2007/06/21

Dankie!

Lekker storie, waars die res....?

Laughing

Offline
Joined: 2009/12/09

Ek is bevrees jy is vas Danie! Soos Mwendo se, ons ry lekker saam en dit voel of ons pas aan die gang gekom het...! Dit is hoekom die verslae so lekker is : mens ry saam!

n/a