Baviaanskloof - wereld van Psalm 23, soos Dana Snyman dit beskryf het (WEG Aug'05)
Vir jare lank wou ek dit sien - sedert my ouers dit baie jare gelede per klein motor deurgery het. Hulle was liries oor die ervaring. Vandag is dele van die pad veels te rof vir 'n klein motor.
Paar jaar terug het ek een dag van Jeffriesbaai af met my R100RS teerlangs gery tot waar die grond begin, net om te sien hoe lyk dit daar rond. Daar by die teer se end het my maag gedraai toe ek besluit het - ek moet 'n grondpad-bike kry ... dis waar GeelKameel vandaan kom.
Na die afgelope twee jaar se gepraat "Ons-moet -die-Baviaans ry..." het JR 'n toer soontoe gereel. Ek wou in elk geval my ouers besoek in Jeffriesbaai en moes dus 'n paar dae vooraan of agteraan bylas. Vriend Dirk wou die Baviaans ook doen, maar hy moes Saterdagaand terugwees in die Kaap. Blink gedagte het ontstaan - ek en Dirk ry twee dae voor die tyd en oornag in Jeffries. Volgende oggend ry ons twee die Baviaans van Patensie af terwyl JR en sy groep van die Kaap af ry na die Baviaans se ander kant. Ons ontmoet dan by Rietrivier (Makkedaatgrot) en oornag daar. Volgende oggend ry Dirk Kaaptoe en ek ry saam met die GS groep terug deur die Baviaans!
So gese^, so gedaan. En so het ek die Baviaans van altwee kante af gery binne twee dae. Saam met Dirk Oos na Wes (baie dankie vir die kameraderie en al die fotos, Dirk), daarna saam met die groep Wes na Oos). Wat 'n plesier! 'n Lekker kaart het onlangs in DriveOut verskyn
Van Patensie se kant af begin die Kloof by Komdomo. Ons het daar gestop en gevra wat kos die permit. Neewat, as jy deurry is geen permit nodig nie (net as jy binne kamp...?) en daar gaat ons.
By die Cambria boskamp is 'n bord met afstande. Interessant, maar eintlik irrellevant.
'n Entjie verder waarsku hulle teen gevaarlike diere (wat ons gelukkig nie teengekom het nie)
Lekker grondpad in hierdie dele. Baie mooi natuur, paar splashe en geleidelik word die kloof smaller tot by Poortjies.
As jy weer sien is jy in die Combrinkpas. Die pas is lank en word al hoe steiler en al hoe rowwer. Stewige oppervlak, maar later so rof dat jy die adrenalien in jou ore voel! Oral is diep spoelslote met skuins kante. Jy is heeltyd bang dat die voorwiel 'n skuins wal gaan tref en dan onder jou uitgly. Dus probeer jy die sloot teen negentig grade tref, maar dan sien jy anderkant hierdie sloot is 'n gat of ander sloot wat 'n heel ander hoek vra. So moet jy skielik jou rigting verander, sommer so binne-in die sloot wat jy nounet mooi uitgewerk het...En twee meter na regs is 'n hengse afgrond....
Hier het ek kwaai respek gekry vir die GeelKameel - solank sy enjin loop klim hy oor enige-iets (wel... mens moet hom darem min of meer wys waar hy heen moet gaan...) Die uitsig van bo af is asemrowend. Mens skrik as jy sien hoe hoog jy geklim het.
Als 1ste rat, als staan, als konsentrasie.
Hiervandaan oor 'n langerige plato en dan skielik af in die Holgatpas. Die hele pas is seker so 7km, maar die eerste paar km is steil en baie rof, sommer baie rof.
Ek het deur gate gery wat ek gedink het GeelKameel se voorwiel gaan vasval! Mens is heeltyd in 1ste rat en heeltyd op die rem.
Hier, en ook in die Combrink op, het ek duidelik gesien die 1150GS se eerste rat is bietjie te vinnig. Opdraend moes ek heeltyd vetgee om die enjin aan die loop te hou, terwyl Dirk se 1100 rustig gekruip het in sy 1ste rat wat laer gerat is. Ek het hom gereeld ingehaal en agtergelaat. Afdraend dieselfde. Sy 1100 was eenvoudig heelwat stadiger, en kon met veel minder rem afgaan.
'n Verdere gevolg is dat die 1150 al die gate en slote teen 'n vinniger spoed getref het. My bande (gewone dubbeldoel) was 1.7 bar voor en agter, perfek vir die pad. Ek het besluit om effens harder as my gewone 1.5 te ry omdat daar geen sand was nie, baie klippe was en ek heelwat bagasie gedra het. Oral was die padoppervlak so dat ek nerens gevoel het dat knobblies nodig sou wees nie.
Met groot verligting en baie tevrede het ons onder in die gelykte ingery. Hier is die pad heel goed. Taamlik ruig en baie mooi natuur. Mooi uitsig van Tafelkop se hoogtes.
Ent verder die bekende watercrossings by Smitskraal. Die een lang crossing (naaste aan Patensie) is op sement. Hier moet jy styf teen die noordekant ry omdat aan die suidekant 'n groot stuk sement gesak het. Jy kan wel daar deurry, maar gaan vir 'n paar meter in taamlike dieper water ry! So 100meter verder is die berugte klippe-crossing. Enkeldiep water vir so 80 meter. Ronde klippe al die pad. Hier het ons ook Noordekant gehou, in die spoor. Al was die water so vlak, mens kon zero van die klippe sien. Ek was maar lekker bang dat ek en GeelKameel 'n meningsverskil sal kry hier iewers. Maar ek het hom vertrou en hy het self besluit waar hy wou ry. Ek het net gas gevoer. Nogal opwindend, ek moet se'! GK het oral rond gespring en my laat klou. Maar ek het hom uitgelos en nie baklei nie.
Verderaan ry ons oor die Grasnekpas. Smal tweespoor met paar skerp draaie. Taamlik steil op plekke, maar niks erg. Heelwat klein driffies met water.
Hiervandaan raak die pad al hoe makliker en gaan deur mooi valleie en klowe. Die Baviaans kan effektief in twee dele verdeel word - die boerderygebied aan die westekant en die wildernisgebied aan die oostekant (Patensie se kant). Tussenin is hierdie passe waardeur ons nounet deur is.
Verlate plaashuise en vervalle grafte maak mens bietjie weemoedig. Hierdie mense wat hier begrawe is het 'n lewe geken wat sekerlik baie rustiger was as wat ons ken. Moeilike lewe met min hulpbronne, maar ek dink hulle was baie tevrede en gelukkig.
Rotsformasies by Zandvlakte se omgewing
Veronica is 24 jaar oud en bedryf al vir 4 jaar 'n pad-restaurant uit haar familie se huisie teenaan die pad. Die besonder mooi tuin en aantreklike tafel het my oog dadelik gevang. Ons het gestop, gesels en 'n blikkie koeldrank gekoop, yskoud uit haar parafien-koelkas. Sy verkoop koeldrank, koffie/tee en roosterkoek. Dit is so lekker om te sien sy doen iets sinvol vir haarself. Sy kon baie maklik daar in die Kloof net gebly en 'n niksdoen-lewe gevoer het.
Dit het laat begin raak en ons is al verby die aantal km wat ander bikers gese^ het hoe ver dit Makkedaat toe is. Veronica het ons verseker dit is nog so'n paar km verder.
Teen vroeg-skemer het ons by Rietrivier (Makkedaat) aangekom. Maar waar is JR se GS groep??? O, hulle het nounet uit DeRust gebel....hulle het 'n detour gery oor die Swartbergpas en Meiringspoort en sal ''bietjie laat'' wees! (maw hulle sal grondpad ry in die donker)
Wel, ek en Dirk het gaan afpak by die slaap-grot met die naam Dawid-se-Gat. (daar is heelwat grotte in die omgewing, Makkedaatgrot is maar een van hulle)
Die grot is baie spartaans, maar is tog baie goed toegerus. Dit moes die eienaar baie gekos het. Elektriese (12V) ligte met sonpanele, lopende vars bergwater, warmwater stort (gas), spoeltoilette, matrasse, heerlike kaggel. Die stort en toilete is 'n hele 50m veld-in, maar dit het nie gepla nie. Ons het solank vuur gemaak in die kaggel, 'n stywe dop gedrink en toe terug na die opstal (2km tweespoorpad in die donker).
Daar het ons die GS groep aangetref - vol stories en redes hoekom hulle laat was! Maar almal veilig en tevrede.
Die aandete was ook al gereed. Boetie en Henriette Terblanche en hul dogter Koba het oortref met lekker disse wat in die skuur op die kole gemaak is.
Braaivleis, wors, gestoofde vrugte, aartappels, slaai..... Die hoogtepunt vir my was die koedoepastei! Ek het myself skaam geeet daaraan.
'n "Sideboard" langs 'n eettafel lyk nie aldag so' nie!
Na die lekker ete en kuier het ons na die onderskeie slaapplekke gery. Agt van ons is na die Dawid-se-Gat, die res na die Aalwynbak grot iewers hoog bokant die opstal.
Dit was lekker om so in konvooi te ry in die donker, op 'n slingerende tweespoorpad, en nog lekkerder om in die grot om die kaggel te sit en stories uitruil.
Volgende oggend vroeg opgestaan, met bobbejane wat tekere gaan in die kranse iewers naby. Almal was van mening dat niemand gesnork het nie. Wel, ek het niemand hoor snork nie!
Stuk-stuk het ons na die plaas opstal teruggery vir 'n baie rustige en lekker ontbyt.
Ongelukkig het ons nagelaat om weer die Rietrivier Info-sentrum van Boetie en Henriette Terblanche te besoek. Ek en Dirk was die vorige aand vlugtig daar in. Besonder interessant en aanskoulik. Indien mens die Kloof van die Weste af ry is hierdie 'n moet-stop.
Teen nege-uur het ons in die pad geval na die ware Kloof met sy passe. Nege-uur klink dalk vroeg, maar dit word soggens lank voor ses al lig.
Rustig getoer en die omgewing ingedrink. Verby Speekhout en Vera se restaurant. Studtis, geboorteplek van PH Nortje is stil en leeg. Baie van sy ervaringe in die Kloof is opgeteken in sy boeke, onder andere sy boek "Ken op die Kierie". In die Kloof was eens 3000 mense, vandag iets oor 'n duisend, waarvan net 12 boere is.
Die eerste deel, tot by by Geelhoutbos rond, is baie goeie grondpad en maklik om te ry. By Kleinpoort het ons gehergroepeer. Party ouens het besluit om petrol in te gooi (by die enigste pomp in die Kloof). Ek het laas in Patensie volgemaak en was seker ek sou maklik weer tot daar kan ry met wat oor is in die tenk. Hier het my kamera weer sy ou trieks begin maak deur vas te haak en nie te wil fokus nie.
Ek het mooi fotos gemis van donkiekar-teksies wat soos F1 gedryf word hier by die Kleinpoort winkel. Arme donkies, ek is seker hulle drywers is rustiger as daar nie toeskouers met hengse bikes in die omgewing is nie.
Hele paar splashes, almal op sement, maklik en veilig.
Verby Zandvlakte By Geelhoutbos begin die pad smaller en meer tegnies raak. Mens kom agter dat jy laer ratte gebruik en nie meer so rondkyk nie terwyl jy beweeg.
Een spesifieke driffie het ons almal laat skrik. Jy ry nog so op mooi pad, dan maak die bome bo jou toe en skielik 'n klein klompie water. Jy moet vinnig rem maar kannie veel spoed verminder nie. Dan die splash - en as jy opkyk moet jy byna 90 grade draai! Ek weetnie van die ander ouens nie, maar ek het nogal geskrik!
'n Stinkhoutboom kan blykbaar nie van steggies geplant word nie. Die nuwe boom groei uit die ou stam, soos hierdie voorbeeld. Links op die foto kan mens sien dat sy ou stam afgesaag is.
Hier rond is die pad al regte tweespoor.
Klipwerk wat al by die 100 jaar oud is hou die pad se kant stewig.
'n Ent verder die Grasnekpas. Indrukwekkend van altwee kante af!
Kort anderkant Grasnekpas is die Smitskraal crossings. Hierdie keer eers die klippe-een en daarna die sement-blad. Meeste ouens is deur sonder drama, maar nie almal nie... gelukkig was daar baie hande wat vinnig kon help!
Andries met sy pap wiel het die nuwe sleepwa getoets. Darem net 'n paar kilometer, tot by die wors-braai middagete by Smitskraal. 'n Stukkie donkiekar (1mm dik en 10mm lank) het hom 'n papwiel gegee.
Hiervandaan was die pad smal en heel rybaar. By Doodsklip het die pad begin tande wys, en skielik is jy in die steil Holgatpas. Aan die begin net draaierig en smal, maar dan daardie hengse klipriwwe! Verby die eerste erg rowwe deel het ons 'n sementblad in 'n skerp draai gevind en bietjie afgepak.
Opgewonde het elkeen wat daar aankom gelate sy enjin stilgemaak en opgewonde "...het julle ook..." en "...wat 'n stukkie pad..." en "...ek het amper..." Maar, almal is veilg daar deur, en so ook deur die volgende rowwe stuk tot bo-op die Pisgoedvlakte.
Die vlakte is vernoem na 'n bossie wat glo die beeste se niere befoeter het. Hier het ons lank op die bakkie gewag omdat hy 'n slag moes omdraai om iewers te gaan help, en hy hele ent moes ry om omdraaiplek te soek. Dis nogal sleg om so te wag en wonder. Mens is so gewoond om gou selfoon te gryp en gougou te weet wat gaan aan. Ons het die nuus so stuk-stuk gekry van verbygaande bakkies. Elke bakkie vertel iets nuuts, maar darem geen slegte nuus...
Ons het tyd gehad om die sweefspoor te bekyk. 'n Boer het dit in 1965 gebou sodat hy voorraad na sy plaas kon neem sonder om deur die Holgatpas te ry.
Een ding is deeglik onderstreep: begin vroeg sodat jy deur die passe is voor laaste lig ingeval van moeilikheid en vertragings. Eindelik was almal bo en het ons die vlakte oorgesteek en die Combrinkpas afgegaan. Weereens verwonder jy jou aan die klipwerk en ongelooflike moeilike terrein waarin hulle moes werk.
Hierdie pad (die R332) met sy passe is in 1891 voltooi deur Thomas Bain. Dit was sy laaste groot projek. Die son was al laag, maar ons kon die Combrinkpas darem goed sien en geniet. Afgaan hier was maklik, vergeleke met die woeste Holgatpas.
Teen sononder was ons onder op die gelyktes van die wildernisgebied op pad na Poortjies. Sowat twaalf keer deur water. Mens het so'n gevoel van Tuinroete gekry met al die bosse om jou. In laaste lig het ons 'n weer 'n slag vir die bakkie gewag en die omgewing geniet.
Hier rond het die GeelKameel sy petrolblokkies laat opraak en ent verder 'n geel petrol lig begin gooi. Dis nie lekker om in die donker te ry met 'n groot geel lig hier voor jou nie. Maar ek het geweet ek sou dit haal na TiaGhee tentkamp (net-net) en dat die bakkie agter ons darem 'n kannetjie petrol het. Al was dit pikdonker het ons maklik gery tot by die teer en die laaste entjie na die kamp (JR spesialiseer, lyk dit my, om 'n stuk in die donker te ry!).
Die TiaGhee afdraai was 'n baie welkome gesig, maar baie onwelkom was die tweespoor grondpad in die donker op soek na die kamp! Twee km wat gevoel het na 20km... By Tia Ghee het ons heerlik geeet, om die vuur gekuier en met warm water gestort. En geslaap soos die klippe in die Holgatpas.
Wat 'n onvergeetlike avontuur!