Another chapter of our Botswana & Namibia trip

 

Deel 2 van my en Dries se 14 dae trip....

Die “tyre repair-man” het ‘n goeie job gedoen en daar gaat ons alweer. Net iets oor Dries: As dit by iets kom wat gedoen moet word dan vra of wag hy nie, hy doen …..

Ons ry Ncojane binne en stop vir ontbyt… (Simba tjips en Fanta orange). Dit was vir beide my en Dries opvallend om te sien die mense in Ncojane gebruik die asblikke… nerens le vuilgoed rond nie…. Ons los Ncojane agter en durf die laaste sowat 100 km van die Botswana pad aan en gou-gou doem Charleshill se vulstasie voor ons op…. Ons maak vol en ek is baie trots omdat ek 320 km ver op 16 lt gery het… Dries se Dakar het nog minder branstof gebruik.

Die grenspos is weereens sonder probleme en ons pak die “boring” teerpad aan tot in Gobabis waar ons middagete nuttig en ons dors les. (Ons het immers die vorige middag laas kos geeet). Windhoek is nog ‘n entjie en ons val weer in die pad want ons moet nog slaapplek kry en wil nie in die donker soek nie. Ons kry slaapplek nie te ver van die lughawe af nie en omdat ons tente en slaapsakke nat is kry ons maar vir ons elkeen ‘n hutjie met ‘n en-suite badkamer. Ons bederf onsself met die weelde van warm water wat verkaf word deur ‘n “donkie”. Dit is darem al dag 3 sonder ‘n stort……

Heerlik geslaap, skoon, en uitgerus maak ons die volgende oggend ontbyt en ek besluit om my nat slaapsak en tent ‘n bietjie in die son te sit.  Ek wonder nog waar toe gewaar ek die lapa’tjie nie te ver van ons hutte af nie en besluit dit is net die plek…. Wat ek egter nie geweet het nie is dat die lapa aan ‘n klomp perdebye behoort en hulle deel nie hul lapa nie… Toe ek onder daai lapa se dak instap besef ek daar is groot fout maar dit was te laat… Wat ek nou nog nie verstaan nie is hoe die perdeby dit reg gekry het om by my hemp se kraag in te vlieg … Damn, dit het gebrand….

Ewenwel, ons sit nog en ontbyt eet toe kom ‘Jonas’ en sy medewerkers daar aan. Bring nog hout vir die donkie en sommer ook om te hoor of alles nog reg is…. Nog iets van Dries: Hy is skerp en so gebeur dit dat hy vir Jonas vra om vir ons nog ‘n stoel te bring en hy beduie na die “Perdebye” se lapa toe….. Mensig, daai klong kan hardloop…!!!! Ons wag nou nog vir die stoel…. Hehehehee….

Dit was lekker om ‘n dag af te he, klere te was en sommer net te ontspan. Natuurlik het ons weer ‘n spaar binneband gekoop net vir ingeval…… Later die middag is ons gepak en reg om verder te ry maar ons stop eers by die lughawe om die “Fotograaf” op te tel….. Daarvandaan ry ons suid en ons kamp in Mariental vir die aand. Braai was toe nie meer lekker nie en ons maak uie en bullibeef gaar in ‘n Dixie…  Army-style, en omdat ons dit so lank laas geeet het was dit baie lekker en ons besluit om van dit te bere vir ontbyt… Verdomde klomp miere het ook daarvan gehou…….

Hardap Dam is in die omgewing en ons gaan maak daar ‘n draai.

                      

HARDAP DAM

Daarna kry ons koers Maltahohe toe… Ai, grondpad ry is darem so lekker en ons het dit so lanklaas gedoen.  Neem iets vir die maag en keel en voel sommer baie beter, en minder kwaad vir die miere wat ons lekker ontbyt oorgeneem het.

Een van die baie interessante dinge in Maltahohe se winkel…

Ons kry weer koers en mik om die dag in Solitaire te eindig… Net hier en daar ‘n driffie met effe sand maar niks om oor huistoe te skryf nie.

Daar is baie geskryf oor Solitaire en alles is waar… As jy ooit die suide van Namibie aandurf MOET jy by Solitaire aangaan. Ons het twee aande daar vertoef en dit het min of meer so verloop:

Welkom in Solitaire….. Watter ander dorp dui die getal van sy inwoners aan?

Dit kan nie beskryf word nie, mens moet dit ervaar…

Hier koop mens ordentlike Saddle tjops….

Solitaire se “Trademark”.....

Dit is met hartseer dat ons verneem dat die bekende Apple crumble-bakker “deurgebreek het na die groot trop” net ‘n paar dae voor ons aankoms. Hy het darem sy bak-vaardighede oorgedra …….

Ons het ook ‘n paar van Solitaire se inwoners ontmoet:

Die Girls van Ontvangs…

En ‘Tokelosh’ ……

Met ons aankoms in Solitaire het Tokelosh dit op homself geneem om ons persoonlike ‘gids’ te wees en hy het baie mooi na ons omgesien….. En ook gesorg vir heelwat vermaak…..

Ons het kamp opgeslaan en Dries kon selfs ‘n middag-slapie inwerk…

Na Dries se middag-slapie het ons planne gemaak vir die volgende dag, en Sesriem en Sossusvlei was op die spyskaart….

Was lekker om die bagasie (en tente) onder Tokelosh se wakende oog te laat…..

By Sesriem sit ek en Dries gesels oor ‘n roomys en Fanta toe daar ‘n paar toerbusse stilhou, en ons gesprek dwaal na die vryheid wat motorfiets ry ons bied, vergeleke met die gebondenheid van ‘n toerbus….. Dit is toe wat Dries vir my se : ‘Daan, as jy my ooit eendag in so ‘n bus sien sit, vat asb my 30-06 en mik tussen my oe…….’

Sossusvlei was ons nie beskore nie want m/fietse word nie daar toegelaat nie, en die bedrag wat ons moes betaal om saam met ‘n gids te ry was net te hoog.

Op pad terug na Solitaire sien ek ‘n ver afgelee gebou en wonder hardop (vergeet my Sena was aan) wat dit kan wees. Summier draai ons om en gaan stel ondersoek in…

Pad na ‘n ver en afgelee gebou…

Met ons aankoms by die gebou is Dries vinnig uit sy baadjie om te gaan verken. Ek is nog besig om te ‘faf’ toe is Dries weer terug… “Daan, jy sal my nie glo nie… hier is ‘n kroeg en alles is oop maar ek sien niemand nie….” Stap saam met hom terug en jou wragtig, hy het nie gejok nie… Staan nog en wonder wat nou, toe kom ‘n dame aangestap, druk ‘n papier in ons hand en se: “Welkom…. Sy vervolg en deel ons mee dat ons onself moet help met wat ons wil drink. Die papier wat sy ons in die hand gestop het is ‘n voorraadlys van wat in die yskas is en wat dit kos…. Ons moet net aftick wat ons gedrink het en die geld daar los.... en daar gaat sy weer….. Jy kon my met ‘n veer omslaan… ‘n Honesty bar in middel van erens en nerens…..

Die Honesty Bar se braaiplek…..

Terug by Solitaire doen ons navraag oor Wi-Fi want die Fotograaf moet binnekort terug en ons wil kyk watter vlugte is beskikbaar… Tokelosh was besorg oor die wending wat sake nou ingeneem het en hoekom “Mevrou” dan nou wil terug… (Natuurlik is die arme Tokelosh onbewus daarvan dat die fotograaf net ‘n paar dae se verlof kon kry). Dries haak af en se: “Ek is nou moeg vir haar en sy moet huistoe gaan …” Arme Tokelosh was geskok en later kry hy my eenkant en vra of daar nie iets is wat ek kan doen nie? .... Siestog, ons het hom nooit reggehelp nie….

 

Ons groet Solitaire en sy vriendelike mense die volgende oggend en pak die sowat 230 km tot in Walvis aan…. Mooi beskryf nie die dorre landstreek nie en ons moes eenvoudig net stop (meer as 1 keer) sodat die Fotograaf dit kan afneem en verewig….

Koffie?

Eers ‘n bietjie die vrede en stilte van die Namib ervaar…

 

Word vervolg….. (weereens)

Comments

Offline
Joined: 2009/12/09

Nog, NOG...!

n/a